Hallo almal,
Iets wat ek nog altyd aan vasgehou het was dat God altyd dieselfde is, al verander alles om ons, bly God dieselfde. Sy liefde, genade en seën bly onveranderd. Ek sien met verwagting uit na 2021! God is steeds met ons in hierdie nuwe jaar. Hy sal fisies en geestelik voorsien wat ons nodig het!
Ek wil namens myself, my gesin en Ruimsig Gemeente vir julle elkeen ‘n voorspoedige Nuwejaar toewens. Ek bid dat 2021 oorlaai sal wees met Hemelse Hoop. Mag julle God se liefde en genade tasbaar ervaar en Sy lig weerkaats waar ook al julle julself bevind.
President, Cyril Ramaphosa, het op 28 Desember aangekondig dat ons terugbeweeg na ’n aangepaste vlak-3 inperking tot 15 Januarie 2021, waarna daar verdere besluite gemaak sal word vir die pad vorentoe. As gevolg van die regulasie wat alle binne en buite byeenkomste verbied, sal ons nie 10 Januarie by Laerskool Muldersdrif bymekaarkom nie. Ons is ook nie seker hoe die pad vorentoe gaan lyk nie, maar een ding waarvan julle verseker kan wees is dat ons steeds hier is vir julle, al het ons vir eers SLEGS AANLYN DIENSTE.
As jy enige vrae het of ondersteuning nodig het, kontak my gerus persoonlik: 082 491 8255 | jan@ruimsig.com
Hou asseblief ons Facebook bladsy dop vir die nuutste verwikkelings en help ook met kommunikasie deur die aankondigings te share op sosiale platforms. Maak ook seker dat die Kerkkantoor se WhatsApp nommer (082 889 9730) op jou foon gesave is en as jy nie tans WhatsApp Broadcast van ons ontvang nie, stuur jou naam en nommer vir ons via Whatsapp na 082 889 9730.
Ruimsig Gemeente besef ook die erns waarin ons land tans is en doen ‘n beroep op almal om te bid vir ons gesondheidswerkers, leiers en mense wat geaffekteer is deur Covid-19.
My gebed vir jou is steeds dat jy en jou gesin werklik die beste sal maak van hierdie tyd! Dat julle die kosbare geleenthede sal raaksien om te Connect waar julle is….met God, met mekaar en met mense wat oor julle pad kom!
Blessings
JAN SMIT
GEMEENTELEIER