As dit van Ruimsig Gemeente afhang…is die antwoord: ONMIDDELLIK!!!, maar hierdie is ‘n komplekse vraag en die antwoord daarop verskil afhangende van jou definisie van “Kerk”?
Ruimsig Gemeente het Maandag, 1 Junie 2020, ‘n kommunikasie uitgestuur dat ons vir eers nie eredienste in Laerskool Muldersdrif se skoolsaal gaan hou nie en die besluit aan die einde van Junie sal heroorweeg.
Moet ons nie verkeerd verstaan nie, ons is self baie desperaat om weer as Gemeente bymekaar te kom en sien baie uit om weer saam community te hê, maar desperaatheid moet ons nie onverskillig maak nie. Alhoewel ons toestemming van Laerskool Muldersdrif ontvang het om in die saal bymekaar te kom, is daar steeds onsekerheid oor presies hoe dit gaan wees as die kinders terug gaan skool toe. Die skool was ook so gaaf om ons gebruik te gun van die voorsorgmaatreëls wat hulle reeds in plek het, maar daar is ander maatreëls in plek vir groepsbyeenkomste wat ons ook in ag moet neem. Daarom het ons gedink om Juniemaand te gebruik om eers die kat uit die boom te kyk… for fools rush in where angels fear to tread.
Ons moet onder andere dink hoe ons bymekaarkom gaan lyk op ‘n Sondag as ons 1.5 meter uit mekaar moet sit; ons mag nie sing nie; tee en koffie mag nie bedien word nie; die geliefde “kuier na die diens” mag nie gehou word nie; wie gaan die polisieman wees as een van ons nie ‘n masker dra nie?? ‘n Ander bekommernis is dat ons skielik sal moet begin diskrimineer teen mense bo 60 jaar, asook mense met asma, diabetes, hartkwale en ander siektes wat ‘n lae immuniteit het; persone met hoë koors of ander verkoue simptome…nommer 51 wat opdaag nadat ons ons limiet van 50 bereik het. Elke 50 se temperatuur sal voor die diens geneem moet word. Daar is reeds ongeveer 21 persone wat die saal vir ons voorberei elke Sondag voor die diens. Dit beteken dat slegs 29 ander persone die diens kan bywoon…o ja en Jkidz en JGen moet ook geakkommodeer word tydens die diens…dus is daar slegs plek vir vier tot vyf gesinne tydens ‘n diens…
Maar wanneer kerk gesien word as iets wat onafhanklik van ‘n gebou gebeur dan is die antwoord op die vraag wanneer kan kerk begin…onmiddellik!
As kerk gesien word as iets wat nie net op Sondae gebeur nie dan is die antwoord op die vraag wanneer kan kerk begin onmiddellik!
As kerk gesien word as die dinge waarmee jy elke dag besig is om God se Koninkryk te laat kom dan is die antwoord op die vraag wanneer kan kerk begin onmiddellik!
Ruimsig Gemeente is so dankbaar vir die geleentheid wat ons het om tans op Sondae en in die week aanlyn met mense te kan connect. (En hier word ons nie beperk tot 50 mense nie!) Ons is baie bevoorreg om in hierdie tyd steeds ons verskeie uitreike finansieel te kan ondersteun met die eerste 10% van ons maandelikse inkomste wat ons weggee. Ons is trots om deel te wees van ‘n community wat connect waar hulle is en elke dag intensioneel God deel maak van alle areas van hulle lewens. Ons is baie opgewonde oor ons nuwe aanlyn reeks “Doen die lewe” wat Sondag 7 Junie begin.
Ons daag jou uit om ons te help dat kerk onmiddellik kan begin!