Ons is in ’n tydperk van gebed, en vir die laaste 3 weke, is daar verskeie sake waarvoor ons spesifiek bid in die gemeente en ons omgewing. Ons bid dat mense God se genade sal beleef, dat hulle in hulle donkerste oomblikke, na God sal draai. Ons bid in siekte, finansies, gesinsverhoudings, en dat ons God se genade wat Hy aan ons bewys ook deel van die omstandighede sal maak en kan beleef.
Ons glo dat ons mekaar kan help en aanspoor tot ’n lewe van gebed.
Soos ek Sondag in my boodskap genoem het onthou ek as ’n sewejarige hoe ons visvang-vakansies by St Lucia aan die Noordkus gehou het met die karavaan, maar vir ’n sewejarige raak jy gou verveeld as die vis nie byt nie. Ek onthou hoe ek in my hart begeer en gedroom het terwyl ek so in die water ingestaar het van ’n rooi bigwheel karretjie wat ek by die klein kafee in die dorpie gesien het, en aangesien die dorpie se winkel ekstra duur was volgens my pa, het ek gevra maar waar sal dit goedkoper wees? In Durban was die antwoord, en wanneer sal ons soontoe kan gaan? Eendag op ’n reëndag! – dit is iets wat alle jong ouers moet verstaan jy gee nie ’n kind hoop nie, veral nie een met ’n sterk gebedslewe nie. Ek het gebid vir reën, en na die 5de dag van reën in ’n karavaan en twee peters, moes my ouers ingee en kon ons Durban toe ry vir die dag en kon ek met my rooi-bigwheel karretjie terugkom, karavaanpark toe. Ek het ook oppad terug gebid dat dit nou maar kan ophou reën want ek wou buite paaie bou en speel met my karretjie.
As dit by gebed kom kan ons seker baie sê, ek hoor so gereeld by gesprekke dat mense sê, hulle weet nie of hulle reg bid nie, of dat hulle nie weet wat om te sê nie, of selfs begin wonder word hulle gebede gehoor. “Sal God my gebed hoor?” “Wat help dit ek bid?”
Jabes se gebed is seker een van die bekendste “one-liner-gebede” 1 Kronieke 4:10, “vergroot my grondgebied”. En ongelukkig is ons deel van ‘n generasie wat so graag die grondgebied wil sien vergroot word en jaag na die seëninge, dat ons mis lees, dat Jabes se naam beteken het, pyn.
1 Kronieke 4:9 Jabes was meer geëerd as sy broers. Sy ma het hom Jabes genoem omdat sy geboorte so pynlik was. 10Hy was die een wat tot die God van Israel gebid en gesê het: “Laat u seën op my rus en vergroot my grond! Wees asseblief met my in alles wat ek doen, en bewaar my van moeilikheid en pyn!” En God het sy versoek gehoor en dit gedoen.
Sy identiteit was pynlik, wie hy was, en wat sy mense van hom gedink het en gedagtes van pyn opgeroep, Jabes besef hy staan voor God met niks om te bied nie, en uit sy pyn vra hy vir ‘n seën op hom, hy vra dit voor hy sê, en vergroot my grondgebied. Hy soek God meer as wat God vir hom kan doen. Hy vra ook dat God saam met Hom sal wees in alles wat hy doen.
Dit is vir my ‘n bemoediging om te weet dat Jabes God se verhouding met hom belangriker ag as die grond gebied. En dat Hy God vra om met hom te wees in alles. Ons kan ook na God vandag, op die plek waar jy nou is, draai en in jou eie onsekere woorde met God praat oor jou lewe, die hartseer, die lekker, die bekommernisse, en die vreugdes, en soms soos ‘n 7jarige seuntjie wat droom oor ‘n rooi karretjie bid vir reën.
Ek bid dat die Here jou sal antwoord in die oomblikke wat jy Sy aangesig soek, dat Hy jou sal versterk en toevou met Sy beskerming.
Amen
Stefan Zeelie
LERAAR