Môre is die 1ste Julie. Dit beteken ons is halfpad deur 2020, maar ek glo vir meeste van ons voel dit of die jaar al 11 maande aan die gang is! Die grendeltyd het 95 dae gelede begin, maar dit voel soos ‘n ewigheid. Dit voel of ons as Gemeente mekaar jare laas gesien het…maar tog connect ons steeds op Sondae en in die week aanlyn.
Ons het in die “Doen die Lewe” reeks mekaar uitgedaag om te connect waar ons is. Om te poog om die Koninkryk van God te laat kom waar ons, ons ookal bevind. Ons het al lank reeds vir mekaar gesê dat: kerk nie ‘n gebou is of ‘n byeenkoms op ‘n Sondag is nie. Nee, Ruimsig Gemeente is dít waarmee ons elke dag besig is, om God se Koninkryk te laat kom.
Daarom wil ek persoonlik vir elkeen dankie sê wat aktief deelneem om kerk te wees waar jy is. Dankie vir elke persoon wat maandeliks finansiële bydraes gee. Dit stel ons in staat om baie mense in nood by te staan. Ruimsig Gemeente kan steeds verskeie van ons uitreike finansieel ondersteun met die eerste 10% van ons maandelikse inkomste. Ek is trots om deel te wees van ‘n community wat connect waar hulle is en elke dag intensioneel God deel maak van alle areas van hulle lewens.
Ons aanlynkleingroep “kuier” elke Woensdag in die kuberruim. Ons manne-bediening bid elke Vrydagoggend 07:00 saam. Vir meer inligting kontak gerus vir Stefan (stefan@ruimsig.com).
Ek is opgewonde oor ons nuwe aanlynreeks “Volhard” wat Sondag 5 Julie begin. Ons almal trek op ‘n manier swaar in die tyd en in die reeks gaan ons kyk hoe ons kan volhard in moeilike tye.
Ons het altyd as ‘n Gemeente saam ge-Zoom op Sondae 09:30. In Juliemaand word julle uitgedaag om met mense in die Gemeente, vriende of familie direk te connect. Dus gaan ons nie in Juliemaand die kuierspasie na die erediens op ‘n Sondag hê nie.
Ruimsig Gemeente het Maandag, 1 Junie 2020, ‘n kommunikasie uitgestuur dat ons vir eers nie eredienste in Laerskool Muldersdrif se skoolsaal gaan hou nie. Hierdie besluit sou aan die einde van die maand heroorweeg word. Ons, as leierskap van die Gemeente, het weer hieroor gebid en beraadslaag en besluit om ook nie in Julie eredienste in Laerskool Muldersdrif se skoolsaal te hou nie en sal die besluit aan die einde van Julie heroorweeg.
Ek wil dit duidelik maak dat ons baie graag weer as ‘n gemeente bymekaarkom wil wees en saam community hê, maar ons het steeds ‘n verantwoordelikheid. Die piek van die infeksiekoers is nog nie eens bereik nie en daar is al heelwat van ons lidmate wat positief getoets is met COVID 19. Ons glo die regte ding om te doen is om nog ‘n maand te wag. Wat ons ook in berekening gebring het, is dat indien ons wel bymekaar sou kom ons 1.5 meter uitmekaar moet sit. Ons mag nie sing nie, daar sal geen koffie of kuier na die diens wees nie, ons kan nie J-kidz aanbied nie, dus sal die kinders die diens ook moet bywoon. Net die Crew en personeel, wat op Sondae die erediens regkry, is reeds meer as 50 mense (hul gesinne ingesluit), wat beteken dat niemand uit die Gemeente die diens kan bywoon nie.
Daarom glo ek julle verstaan en ondersteun ons besluit. Die Gemeente-aktiwiteite en preke gaan steeds elektronies voort en ons hou julle ook op hoogte van al die ander wonderlike dinge wat ons beplan vir Juliemaand.
Mag ons voortbou om mense te wees wat hulself definieer en hul lewens organiseer om agente van God se missie na die wêreld te wees.
Blessings
JAN SMIT
GEMEENTELEIER