Waar is jou fokus? Op God of jou probleme?

Ek is meer werd as wat my storie kan vertel…
August 11, 2020
Jabes se gebed
August 25, 2020

Waar is jou fokus? Op God of jou probleme?

Petrus skryf vir ons in 1 Petrus 5:7: “Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.”

Dit vat meer as wilskrag om jou nie meer te bekommer nie.  Ek is seker jy weet dit al, want jy het dit al probeer.  Hoe meer jy dink: “Ek moenie hieroor bekommerd wees nie,” hoe meer bekommer jy jou daaroor.

Jesus sê in Matteus 6:32 dat ongelowige mense hulself bekommer oor alles.  As jy nie in ‘n verhouding met God staan nie, het jy rede om bekommerd te wees.  Jy moet God leer ken!  As gelowige het jy ‘n hemelse Vader wat beloof het om vir jou te sorg.  Jy is ‘n kind van God, waarom bekommer jy jouself?

Ons lees in Matteus 6: 34: “Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis.  Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.”

As jy bekommerd is oor môre, kan jy nie vandag geniet nie.  Jy mis die seëninge van vandag.  Dis nie verkeerd om vir môre te beplan nie, maar jy moet vandag leef.  As jy altyd bekommerd is oor môre, word die toekoms oorweldigend.  Ons moet in die oomblik leef een dag op ‘n slag.

Maar hoe gee ons, ons bekommernisse oor aan God?  Hoe hou jy op “worry”?  Een manier is om die beloftes van God in Sy woord te memoriseer.  ‘n Ander manier is om te bid.  As jy soveel gebid het as wat jy jouself oor bekommer het, sal jy baie minder dinge hê om oor te bekommer.

BID VANDAG HIERDIE GEBED:

Liewe Here,
Ek erken dat ek gereeld vergeet dat U by my is.  
Ek vergeet gereeld wie U is.  
Vergewe my asseblief.  
Help my om U Woord en U beloftes te ken.  
Help my om U eerste op elke terrein van my lewe te plaas.  
Help my om een dag op ‘n slag te leef.
Help my om my nie oor môre te bekommer nie, maar om eerder op U te fokus en wat U nou in my lewe doen.
Ek wil vertrou op U belofte om in al my behoeftes te voorsien – finansiële, verhoudings, fisiese, sosiale, geestelike en emosionele.
Help my om U meer te vertrou en minder te bekommer.
Ek bid in Jesus se Naam.
Amen.